Meer oor ons
Ons doel is om speelgoed te vervaardig wat kinders op ‘n interaktiewe, speel-speel manier laat luister en praat! Ons wil ook vir die ouer of versorger op ‘n prettige manier wys wat die mylpale vir spraak-, taal- en luistervaardighede vir kinders van 1 – 6+ jaar is!
Daar was ‘n tyd, nie lank gelede nie, wat ouers die wêreld se tyd gehad het om vir hulle kinders bekende rympies en liedjies te leer en stories tydens bedtyd te vertel. Soms, is dit net nie altyd moontlik in vandag se tyd nie. Lingi vul daardie gaping: hy kan praat en groei in ouderdomsvlakke saam met die kind en vertel die mooiste stories!
Ons visie is dus om speelgoed te vervaardig wat kindervriendelik, nie-toksies, nie-skadelik, tegnologies gevorderd en ouderdomsgerig is, sodat kinders op ‘n speel-speel manier weer na rympies, liedjies en stories kan luister. Die speelgoed moet kleutervol en interaktief wees en die kind aanmoedig om sy sintuie te gebruik om te leer.
Lingi is ontwikkel deur ‘n span kreatiewe mense met ‘n passie vir taal, musiek, kinderontwikkeling en elektronika.
Besigheidseienaar, Bertha Lewis, het as spraak- taalterapeut en oudioloog aan die Universiteit van Pretoria gekwalifiseer. Sy het ook ‘n nagraadse kwalifikasie in onderwys aan Unisa verwerf asook ‘n Diploma in gehoorapparaatakoestiek aan die Universiteit van Pretoria. Haar passie is stories en sy het ‘n algemene en jeugliteratuurskryfkursus onder leiding van die bekroonde Janie Oosthuysen gevolg.
In Bertha se eie woorde: “Ek wil graag sien dat kinders weer opgewonde na ‘n storie luister en na die tyd die storie kan oorvertel. As ek na ouers en onderwysers luister is die klagte so dikwels dat kinders nie meer luister nie en en glo dat storievertelling, van kleins af, kinders hiermee kan help. Ek wil graag sien dat ons skatkis van Afrikaanse rympies en liedjies voortleef en daarom hoop ek dat Lingi kinders speel-speel die waarde van luister sal leer!’’
Lingi is die produk van ‘n twee jaar lange ontwikkeling om die regte woorde, frases, rympies, liedjies en stories vir 1 – 6+ jariges te selekteer. Ons glo dat Lingi elke kind sal inspireer om weer stories te luister! ’n Groot groep mense het saam gewerk om Lingi die superheld die lig te laat sien!
Edmund de Beer/De Beer Electronics vir Lingi se brein en besigheidshulp. Eugene Vos vir die ontwikkeling van Lingi se Afrikaanse stem en klankverwerking. Stephen Jacobs vir Lingi se Engelse stem asook klankverwerking. Madeleen Theron vir die verwerking van Gouelokkies en Die Drie Varkies. FAK (Federasie van die Afrikaanse Kultuurvereniging) vir die toestemming van liedjies soos in die brosjure vervat. Betty Misheiker/Ilona Suschitzky vir die toestemming verleen vir die gebruik van die Dapper muis en Eensame krokodil.
Saar Engela/Via Afrika vir toestemming om die rympie Wippie en Snippie te mag gebruik. Gallo Music (Nico Carstens/Anton de Waal) vir toestemming verleen om Hasie te gebruik. Violet Henning (Navipix photography) en Yolandi du Plessis fotografie vir die fotografie. Ivor du Toit vir Lingi se patroonontwerp in samewerking met Ethnic Works.